Home » Uncategorized » ‘n Uitnemende musiekbediening – is jou beste goed genoeg?

‘n Uitnemende musiekbediening – is jou beste goed genoeg?

Hoe kies julle julle aanbiddingsleiers? Soek julle excellence? Wanneer is iemand goed genoeg om in julle musiekbedieningspan te wees? Hou julle oudisies vir die sangers en musikante?

Maak nie saak in watter styl jou gemeente aanbid nie – of dit nou klassiek-tradisioneel is of –kontemporêr of informeel is – watter premie plaas jou gemeente op excellence. Ek moes die woord excellence gaan opsoek het – in Afrikaans word dit uitnemendheid genoem.

En ek weet, ek weet aanbidding gaan oor veel, veel meer as net die musiek tydens ’n erediens, ek praat in die besonder van die gemeentesang, die musikale aanbidding tydens ’n erediens!

Ek weet nie wie het dit eerste gesê nie, maar iemand het iewers gesê: “Excellence honors God.” Ek sukkel effens om dit vertaal te kry, maar dis waarskynlik iets soos: “Wanneer jy iets uitnemend doen, kry God die eer.” 

Deel van my opdrag by Flam is om gemeentes te besoek en hulle te help om Flam-liedere te sing – in werklikheid om ’n uitnemende musiekbediening te hê.

Flam-songs is per definisie meestal musiek wat deur ’n begeleidingsgroep, ’n band, gedoen moet word en almal het nie altyd die nodige kennis om so ’n groep te begin nie. So, my werk is om gemeentes te help wat dalk nog altyd net ’n tradisionele bediening gehad het, maar wat om watter rede ook al hulle bedieningstyl wil aanpas.

Sommige gemeentes het reeds so bediening en nooi my dan om te kom help met die opleiding van hul begeleidingsgroepe of bloot om nuwe liedere aan hulle bekend te stel.

Met die gevolg dat ek op ’n gereelde basis by ’n groot verskeidenheid van gemeentes betrokke is. Baie gemeentes is stadsgemeentes maar al hoe meer plattelandse gemeentes vra my om te kom help. En dis nou van hier tot in die Noorde en Ooste en Weste van ons land.

Ek was al in klein plattelandse gemeentes met die mees fantastiese musikante. En ek was al by stadsgemeentes waar dit lyk asof daar niemand is wat by die musiekbediening betrokke wil raak nie.

My vraag is dus gerig aan alle gelowiges: watter premie plaas jou gemeente op excellence? Ek wil ’n tweede vraag vra: dink jy beter musiek, sal jou gemeente laat groei?

Bill Hybels, die stigter van Willow Creek Community Church sê hieroor: “Good enough is just not good enough when it comes to honoring God through the Church. In response to his holiness and greatness, in gratitude for his monumental sacrifice for us, our attitude ought to be to pay tribute to him with the best we can offer. Not obsessive perfectionism, but an attitude of excellence that permeates all we do in the Church and in our personal lives. What we do as Christians reflects on the Christ we serve.”

Ek weet nie of ek heeltemal saamstem nie. Hoor eers my argument.

Daar is ’n paar maniere waarop gemeentes hulle aanbidding benader:
Sommige gemeentes stel die beste musici aan wat geld kan koop. As geld nie ’n kwessie is nie, koop jy eenvoudig vir jou die beste band. Dit wil dus voorkom asof excellence gekoop kan word.

Ander gemeentes kry die beste musikante wat binne hulle gemeente beskikbaar is. Excellence word dan bloot in standgehou.

En dan is daar sommige gemeentes wat so veel as moontlik mense wil oplei en deelmaak van die musiekbedieningspan. Die musiek is dus nie altyd excellent nie, want somtyds gaan jy iemand kry wat dalk nog nie so lekker op die noot speel, of altyd die regte noot op die regte plek speel of sing nie.

So, watter model is die beste? Ek vermoed hieroor gaan ons dalk van mekaar kan verskil. Laat weet my wat jy dink.

My opinie is dit:
Die ding is, net soos jou musiekstyl, gaan jou benadering tot die aanbiddingspan sekere mense lok en ander afstoot. As jy die tipe mens is vir wie musiek ’n eksakte wetenskap is – jy hóór as iemand net effens van pitch af is en as die kitaar se D-snaar effens uit tune gaan, dan KAN jy nie verder aanbid nie, dan gaan ’n gemeente jou afstoot indien hulle nie streng en hoë standaarde handhaaf wat hulle musiek betref nie.

As jy iemand is wat eerder fokus op die opbou van lidmate binne die liggaam van Christus, dan gaan ’n gemeente wat net van beroepsmusikante gebruik maak en wat geen ruimte bied juis vir nie-so-professionele musikante nie, jou frustreer – want daar gaan nie juis ruimte wees vir mense om te groei nie.

Ek het in Gr. 9 leer kitaar speel en ek is regtig die Here dankbaar vir gemeentes, predikante en geestelike leiers wat vir my die kans gegee het om te groei. Ek onthou nog hoe ek voor in die kerk gestaan het met my ou nylon kitaartjie (haar naam was Susaartjie, die 6-snaartjie ), besig om vir die gemeente die een of ander liedjie te laat sing. Ek sidder as ek vandag dink wat ek alles gepleeg het – maar ek is dankbaar vir kanse wat ek gekry het om te kon ontwikkel.

Wanneer julle aanbiddingsleiers aanstel, kyk julle na iemand se hart of sy gawes? As jy ’n besluit moet neem om iemand deel te maak van jou musiekbedieningspan, wat is jou minimum vereistes? Het julle enige? Wanneer laat jy toe dat iemand deel word van die span?

Het julle ’n keuringspaneel wat toets of mense op ’n spesifieke geestelike vlak is of kyk julle of die kitaarspeler darem ’n Emol op ’n kitaar kan speel?

Ek sal regtig graag van julle wil hoor.

Ek het vroeg in my lewe besef dat ek nie juis tegnies gesproke die beste kitaarspeler is nie. Daar is baie beter kitaarspelers as ek. My gawe is eerder om mense in aanbidding te lei. Min mense word met die gawe gebore – dis iets wat jy moet ontwikkel. Ek is ook nie daarmee gebore nie, en ek is vandag die Here dankbaar vir geleenthede wat ek gekry het.

Ek dink die Here kyk anders hierna as ons.

Ek het nou die dag ’n gemeente besoek. Die aanbiddingsleiers was ’n middeljarige egpaar. Hulle sing lekker, maar sal seker nooit ’n sangkompetisie gewen het nie. Die begeleiding was maar net een ou op ’n redelike gemiddelde keyboard.

Objektief-musikaal gesproke sou mens seker kon sê daar was nie sprake van excellence nie. Dit was seker maar ’n middelmatige erediens. Tog was my ervaring dat die aanbidding eg was en dat die Here ons aangeraak het – en te oordeel na die reaksie van die gemeentelede was ek nie al een wat die ervaring gehad het nie.

In die middel van die aanbiddingsessie, staan daar skielik iemand langs hulle. Kom ons sê vir ’n oomblik sy naam was Morné. ’n Downsindroom jongman van so twintig jaar of so. Morné kom elke Sondag die erediens bywoon, maar hierdie Sondag wou Morné deelneem.

Excellence in die meeste gemeentes sou seker beteken het dat hulle vir Morné moes vra om te gaan sit… maar sonder om te huiwer het die aanbiddingsleiers vir Morné ’n mikrofoon aangegee.

Die aanbidding het voortgegaan asof niemand Morné se vals stemmetjie kliphard bo die keyboard kon hoor uitstyg nie. Morné kan nie lees nie en het nie die woorde van al die liedjies geken nie – waar hy nie die woorde kon onthou nie, het hy sommer sy eie opgemaak.

As die oomblik nie so heilig was nie, sou mens seker effens kon giggel.
Maar wat vir sekere mense seker ontstigtelik sou wees, was vir hierdie gemeente so normaal soos braaivleis op ’n Sondagmiddag. Was dit excellence? Ek is oortuig daarvan – dit was Morné se beste. Terloops, die kerkgebou was vol mense en ek dink die Here het oor alles geglimlag.

Soos met soveel ander dinge, glo ek nog steeds dat God anders kyk na dinge as mense. En wat mense dikwels as excellence beskou, is bloot snobisme en geestelike hoogmoedigheid. Natuurlik moet ons ons beste vir Hom gee en natuurlik moet ons strewe na excellence in ons musiekbediening, maar kleiner gemeentes moenie dink dat omdat hulle nie groot bands kan bekostig dat hulle musiekbediening enigsins minderwaardig of minder eg is nie. Na alles, beoordeel God steeds die gesindheid, die hart, waarmee ons iets doen.

Nou wil ek julle vertel van ’n baie unieke geleentheid. As jy deel is van ’n gemeente wat dalk nog in hul kinderskoene staan wat so ’n musiekbediening betref, dan is daar ’n unieke opleidingsgeleentheid in Wellington, die naweek van 22-23 November. ’n Kursus getiteld “Met wat jy het” aangebied o.a deur Jandré Viljoen en Neil Büchner – twee uitstekende aanbiddingsleiers.
Hulle wil juis kleiner gemeentes help wat nie ’n volledige begeleidingsgroep het nie, om met wat hulle het ’n sinvolle excellent musiekbediening in te rig.
Meer info oor hierdie kursus en waar om in te skryf is beskikbaar op ons blog.

Ek sal graag wil hoor wat julle oor die onderwerp te sê het.