Home » Flam » ‘n Paar voorstelle vir Lydenstyd

‘n Paar voorstelle vir Lydenstyd

BMNetwerk_EPubD6Oor twee weke is dit die begin van lydenstyd.  Ek het ’n kollega gehad wat altyd gesê het hy haat lydenstyd want “die musiek in lydenstyd is so droewig.  Dis net mineure die heeltyd”.  Hy kon dit nie hanteer nie.  Hy’t altyd vir my gesê:  “As hier vandag ’n vreemde besoeker instap by ons erediens, sal hy dink dis geestelik dood in die gemeente want dit klink soos ’n begrafnis.”

En dan was ek eendag ’n toeskouer waar ’n lidmaat die orrelis ’n skrobbering gegee het, omdat die orrelis dit durf waag het om in sy orrelspel sulke arpeggio’tjies te speel – sulke vrolike nootjies – en dit in LYDENSTYD.

Ek besef ons lesers kom uit ’n veelvoud van kerklike tradisies – so, ek weet nie hoe jou gemeente, jou pastoor of dominee lydenstyd vier nie, maar soos altyd is ek eintlik mos nou maar meer gepla oor WAT julle gaan sing.

Gewoonlik begin Lydenstyd op die Woensdag, 7 weke voor die Vrydag wat bekend staan as Goeie Vrydag.  Hierdie Woensdag, wat vanjaar op 5 Maart sal wees, staan bekend as As-Woensdag.

Hoekom As-Woensdag?  Want een van die tradisionele simbole van lydenstyd is as.  Jy weet mos wat is as?  As is verbrande hout.  Ag, die oorsprong daarvan kom uit die Ou Testament – ’n teksgedeelte soos Levitikus 4 – waar die volk gevra is om ’n gesonde bul te offer – hy is letterlik verbrand tot net die as oorgebly het – daarna het hulle die as met water gemeng – so ’n pasta daarvan gemaak – en dan het hulle dit aangesmeer – as teken dat hulle gereinig is.  En volgens Hebreërs 9:13 en 14 het Jesus se bloed die plek ingeneem van daardie as – en was dit ons sondevlekke af.

Nou, kyk ek weet nie so mooi van julle nie, maar dit wil my van vreugde laat dans.  Die ding is net dit:  voordat ek van vreugde kan dans, moet ek myself deur hierdie proses laat gaan waar ek bewus word van my sonde – hoe groot my sonde is, dat ek myself nie kan red nie – en dan wanneer ek Sy vergifnis vra en ek SEKER is dat ek nou skoon is, gereinig is, dan kan ek mos in lofprysing uitbars.

In lydenstyd het ons sewe weke waartydens ons onsself die heeltyd hieraan kan herinner.  En daar is die MOOISTE liedere om dit mee te doen.  Ja, van hulle is stiller liedere, maar dis liedere wat fokus op vergifnis van sonde en die kruis, op Golgotha, op die bloed van Jesus.

Ek gaan vir julle die naam gee van die lied en die Flam-nommer.  Dit is die verwysingsnommer, sodat jy die lied op die webtuiste kan gaan soek – dis nie iets waarmee jy die lied moet aankondig nie.  Jy mag asb. nie sê “Ons sing nou Flam 7” nie.  Jy moet asb. sê:  “Ons sing nou hierdie pragtige lied waarin ons die Here smeek om genade”.

F7 is ’n lied wat oorspronklik in Engels geskryf is – baie mense sal dit herken as die lied “Lord have mercy” wat deur Michael W. Smith bekend gemaak is.  Dit is in Afrikaans vertaal deur Breda Ludik as “Heer vergewe”.

Die tweede lied wat ek dink julle maar hierdie lydenstyd kan gebruik, is F19.  Die lied is ’n kontemporêre klaaglied.  Ons is nie gewoond hieraan nie, maar is dit nie juis wat Jesus aan die kruis gedoen het nie?  Hy het gebid en gesmeek:  “My God my God waarom het U my verlaat?”.

Hierdie lied “Heer hoe lank” is geskryf deur Andre Serfonten, ’n predikant daar van die Stellenbosch gemeente.

Die refrein van die lied is:

Here, hoor U wat ek sê? Sien U hoe ek ly?

Luister wat u kinders vra.

Here, gee weer hoop; gee weer hoop in my

 Is dit nie juis baie mense se gebed vandag nie?  Sien die Here my nog raak?  Sien Hy as die petrol- en die kospryse styg en ek wonder of my kinders die einde van die maand nog kos op die tafel gaan hê?  Sien Hy my nog in my nood raak?  En dis mos een van die temas van lydenstyd.

Die derde waarna ek dink julle moet luister is ook ’n lied wat oorspronklik in Engels geskryf is.  “You did not wait for me”.  Wat my elke keer van hierdie lied tref, is die waarheid dat die Here my liefgehad het, voordat ek Hom kon liefhê.

F208  “U het nie gewag op my”

Die 4de lied is ’n kinderlied – want moenie die kinders in lydenstyd vergeet nie!  Vir niemand moet lydenstyd ’n vreugdelose, donker tyd wees nie – maar veral nie vir kinders nie!  Maak hulle eerder net bewus van hoe dankbaar ons moet wees vir die geskenk wat die Here ons gegee het.  Die volgende lied is nie die gewone opgewekte kinderlied nie, maar ek dink dit is eenvoudig genoeg dat dit kinders kan help om te verstaan wat Jesus deurgegaan het.

F226 “Ek wil vir U dankie sê

Keith Getty en Stuart Townend het vir my seker een van die mooiste kontemporere lydenstyd liedere geskryf.  “In Christ alone”.  Ek het altyd gewens iemand wil dit in Afrikaans vertaal – wel nou het iemand.

F232 is “Jesus alleen”.

Die laaste lied wat ek weer onder julle aandag wil bring, is geskryf deur daardie meester liedjieskrywer uit Nederland, Marcel Zimmer.  Die lied F91, “U genade’s vir my genoeg”  neem jou op die Via Dolorosa, saam met Jesus, en al wat jy kan uitkry is, “Dankie Here, dat U genade vir my genoeg is.”  Dis ’n lied wat ’n gemeente saam in trane en in aanbidding sal hê.

Al hierdie liedere se bladmusiek is beskikbaar op www.flam.co.za – gratis as jy ’n CCLI lisensie het.  Die guidetracks, die gidssnitte, is ook op Flam aflaaibaar – ongelukkig nog nie op Fluister nie.