Kantorymusiek

BMNetwerk_VONKK3DIE SKEP EN VERSAMELING VAN KANTORYMUSIEK

  • Die woord kantory is afgelei van kantor. Die kantor se hooftaak is om die gemeentesang te dien.
  • In sommige denominasies tree die kantor ook as liturg op. Die liturg se hooftaak is om die liturgie te lei en te laat vlot.
  • ‘n Kantory is ‘n groep mense wat namens die kantor of die liturg kan optree om die  gemeentesang te dien en die liturgie te laat vlot.

Definisie: ‘n Kantory is ‘n liturgiese sanggroep wat as verlengstuk van die kantor, die gemeentesang lei. Dit kan ook saam of namens die liturg die liturgie laat vloei.

Liturgiese funksie:

  • Wanneer dit as verlengstuk van die kantor, saam met die gemeente of namens die gemeente funksioneer, is dit gewoonlik in die vorm van ‘n gebed.
  • Wanneer dit saam met die liturg of namens die liturg optree, het dit gewoonlik ‘n verkondigende taak.

Die kantory help om die liturgie te laat vlot deur: 1. die gemeentesang te dien en ondersteun; 2. gemeente te help lei tot die realisering van kommunikasie met God.

Spesifieke funksies:

Ondersteuning van die gemeentesang deur:

  • leidinggewend by die aanleer van nuwe liedere op te tree;
  • ondersteunend saam te sing wanneer liedere minder bekend is;
  • leiding te gee deur hartlik saam te sing met die gemeente;
  • die saamsing van ‘n deskant of harmonieë;
  • deur soms die gemeente vierstemmig te (bege)lei byvoorbeeld by Taizé-liedere.

Wisselsang met die gemeente deur:

  • strofes afwisselend met die gemeentesang sing. Hier kan hulle help om die teksinhoud tuis te bring deur die skep van atmosfeer en te vertolk;
  • by herhalings – om stygende dinamiese vlakke of eggo-effekte te skep;
  • antifoniese sang by strofe-en-refrein liedere waar die kantory die strofes sing (een- of meerstemmig) terwyl die gemeente die keervers sing;
  • die by die aanvang van ‘n lied een of twee reëls as inleiding te sing en daardeur die aandag op die teksinhoud te plaas deur die vertolking en die skep van atmosfeer byvoorbeeld by ‘n loflied of boetelied.

Die lewer van liturgiese bydraes as deel van die liturgiese dialoog: namens die gemeente of om die gemeente te lei deur:  

  • die sing van gebede bv. die votum of as epiklese gebed (gebed by die opening van die Woord);
  • by die liturgiese dialoog leiding te neem wanneer die liturg en die gemeente in gesproke of gesonge vorm in gesprek tree;
  • liturgiese response as deel van die hoofgebed te lewer, bv. in navolging van die litanie ‘n aangepaste verwoording van die Kyrie eleison te sing of te spreek;
  • by liturgiese response tydens die Skriflesing of die preek byvoorbeeld deur ‘n gesonge of gesproke Halleluja of Amen voor te gaan;
  • ‘n selfstandige liturgiese element byvoorbeeld die sing van die Kyrie eleison as boetedoening tydens of na die lees van die wet of ‘n gesonge geloofsbelydenis tot die erediens by te dra;
  • aansluitend by sommige liturgiese elemente te sing byvoorbeeld as uitdrukking van vreugde na die vryspraak, of as aktualisering van die geloofsbelydenis na die geloofsbelydenis, tydens die offergawe – om die betekenis van die offer te beklemtoon of aansluitend by die preek as preeklied of aansluitend by die uitsending as ‘amen’.

Namens of aansluitend by die liturg by sekere elemente op te tree deur:

  • die sing van die seëngroet;
  • deur die wet te sing;
  • die vryspraak te sing;
  • ‘n lied te sing wat ‘n verkondigende funksie het – gedurende of aanlsuitend tot die Skriflesing of die preek;
  • die sing van die seën as deel van die uitsending.

By spesiale momente in die kerkjaar, bv. by fees- of sangdienste kan die kantory bydra tot die feestelike oordra van die boodskap deur die sing van ‘n lied wat die erediens kan verryk.

Riglyne vir digters/teksskrywers/komponiste van kantorymusiek

•Onder kantory word verstaan ‘n groep sangers wat die gemeentesang aanvul en ook liturgiese momente kan inklee.

•Kantory-musiek moet nie konsertmatig wees nie maar ‘n positiewe bydrae lewer tot die liturgiese inkleding van die erediens.

•Die verwerkings kan een- of meerstemmig wees.

•Die verwerking kan hoofsaaklik gerig wees op VONKK-liedere, maar verwerkings van Liedboek-liedere en FLAM liedere, sowel as ander geskikte liedere kan ook voorgelê word.

•Die melodie van die lied moet in minstens een van die stemme duidelik hoorbaar wees.

•Nuutgekomponeerde kantory-musiek kan ook voorgelê word. Sorg moet gedra word dat sulke tekste van goeie gehalte is.

•Die woord-toonverhouding moet die ritmiese infleksies en aksentuering van die spreektaal op ‘n natuurlike wyse in die musiek ondervang

•Die skepping van kantorysang wat in wisselwerking met gemeentesang gebruik kan word (bv response), word aangemoedig.

•Liedere wat ‘n middelmatige vaardigheidsgraad vereis, word verkies.

•Die styl moet toeganklik wees vir die deursnee lidmaat.

Sien ook VONKK: Algemene riglyne

KLIK HIER vir ‘n voorbeeld vir die aanwending van die kantory in ’n erediens