Klassieke kerkliedere

BMNetwerk_VONKKDIE SKEP EN VERSAMELING VAN NUWE KLASSIEKE KERKLIEDERE VIR GEMEENTESANG

VONKK verstaan dit as beide die byeenbring van bestaande liedere wat wêreldwyd deur gemeentes gesing word, asook nuwe komposisies. Op hierdie terrein wil VONKK graag aandag gee aan kerkliedere wat die volle spektrum van God se Raad en van die erediens sou dek, sowel as al die aspekte van die kerklike jaar en die erediens van die lewe. Daarmee saam wil ons ook aandag gee aan die behoeftes van die verskillende spiritualiteitsgroeperings in gemeentes en liedere skep en versamel wat die verskillende verskillende spiritualiteitstipes sal aanspreek.

Binne hierdie terrein van die skep en versameling van klassieke kerkliedere fokus VONKK veral op die volgende:

• Nuwe komposisies en bestaande liedere VONKK versamel nuwe komposisies en bestaande liedere vir die erediens, kerklike jaar en die erediens van die lewe in Afrikaans.  VONKK ontvang graag totaal nuwe skeppings van melodie en teks, of ook slegs nuwe melodieskeppings of teksskeppings.  Nadat hierdie laasgenoemde skeppings goedgekeur is, sal VONKK poog om ‘n teks of melodie vir die skepping te vind.

VONKK wil graag ook bestaande liedere wat in ander tale van die wêreld gesing word en wat liturgies vir ons funksioneel is, met ‘n eietydse Afrikaanse teks aan gemeentes beskikbaar stel.  Vertalings in Afrikaans moet volgens die internasionale kopieregvereistes, so na as moontlik aan die oorspronklike teks wees – dit wil sê ‘n letterlike vertaling wees.

KLIK HIER om die riglyne vir die skep van nuwe liedere te sien.

• Nuwe psalms Onder die versameling van klassieke liedere, wil ons graag aan veral ook die psalms aandag gee.  Ons glo dat ’n kerk wat nie psalms sing nie, is arm.  Na goeie navorsing, besef VONKK dat die strofiese omdigtings van die psalms met die Geneefse melodieë soos wat dit in die Liedboek voorkom, nie regtig byval by gemeentes vind nie.  Daarom werk ons eerder aan kortvorm psalms wat die inhoud/boodskap van die psalm in ’n korter vorm met ’n eenvoudiger en makliker singbare melodie weergee.

KORTVORM PSALMS

1. Waarom kortvorm psalms?

Tydens 2007 is daar ‘n empiriese studie in die NG Kerk geloods oor die gebruiksfrekwensie en die funksionaliteit van die psalms. Uit die oorweldigende, positiewe respons wat verkry is, het dit geblyk dat die vorm en styl van kortvorm psalms tans die mees bruikbare, eietydse formaat vir liturgiese psalms is.

2. Kritiek teen die huidige formaat en benadering by die psalms

Uit die vraelyste is onder andere die volgende kritiek teen die formaat en benadering wat by die psalms in die Liedboek aangewend is, gelug:

  • Die lengte van die meeste psalms maak dit onmoontlik om dit volledig te sing. Daar bestaan ‘n behoefte aan kort en kragtige psalms.
  • Klagtes is ge-opper dat die psalmomdigtings slegs die inhoud van die Skriftekste probeer weergee, en dan nie sinvol is nie of die “ware betekenis” mis.
  • Kultuur- en ideologies-vreemde uitdrukkings en idiomatiek is gekritiseer – veral die beklemtoning van sekere temas soos ”dele en temas waaroor mens nie kan sing nie“ wat ”veroordelend en selfgesentreerdheid“ of ”wreedheid, oorlog, wraaksug, onverdraagsaamheid“, onsensitiwiteit en verwaandheid“ beklemtoon.

3. Verskillende metodes om kortvorm psalms te benadering:

  • Opsommend – kort stelwyses en gelaaide woorde, byvoorbeeld een strofe per perikoop. Waar die essensie van elke perikoop en die psalm as geheel uitgelig word.
  • Selekteer een of meer perikope as die teks vir ‘n omdigting
  • Selekteer ‘n paar verse uit ‘n Bybelteks van ‘n psalm wat ‘n eenheid vorm vir die omdigting – sonder om die geheel van die psalm uit die oog te verloor.
  • Gebruik een kernvers of kernfrase uit ‘n psalm en omdig dit in ‘n koortjievorm of as ‘n liturgiese respons.
  • Selekteer ‘n uitstaande tema uit ‘n psalm en omdig die verse in die psalm wat daarop lig werp, terwyl die geheelboodskap van die psalm in gedagte gehou word, byvoorbeeld:
  • emosies soos liefde, dankbaarheid, vertroue, afhanklikeid van God, eensaamheid, moedeloosheid, onveiligheid, onsekerheid;
  • behoeftes of probleme soos verskillende klagtes, onregverdige behandeling, siekte, ouderdom, dood, misdaad, natuurrampe;
  • liturgiese elemente soos aanbidding, lof, sondebelydenis, smeking, die behoefte aan God se Woord, geloofsuiting, dankbetuiging, toewyding, bereidwilligheid tot gehoorsaamheid.

Riglyne vir reeds bestaande kerkliedere (uit ander tale)

•Die oorspronklike lied (bladmusiek en teks) moet by die voorlegging ingesluit word

•Besonderhede van die bundel waaruit die lied kom, moet verskaf word

•’n Afrikaanse vertaling van die teks is welkom, maar is nie ‘n vereiste nie. ‘n Bestaande melodie kan ook sonder teks voorgelê word

•Tekste sal teologies en taalkundig deur VONKK se keuringskomitee nagegaan word

•Die kopiereg sal verder deur VONKK hanteer word

Riglyne vir nuwe klassieke kerkliedere

•Die lied moet ‘n positiewe bydrae tot die aanbidding en die liturgie van die erediens lewer

•Die liturgiese bruikbaarheid van die lied geniet hoë prioriteit

•Huidige tendense in die kerklied konsentreer op impak en kompaktheid. Dit behels minder (1 tot 4) en korter strofes (4 tot 6 reëls).

•Die teks moet aktueel wees en die taalgebruik modern

•Klassieke kerkliedere sluit ook toonsettings van psalmtekste in

Riglyne vir kortvorm-psalms en liturgiese response:

•Navorsing het gewys dat daar tans in die kerk ‘n behoefte aan kortvorm-psalms bestaan.

•‘n Nuwe kortvorm-psalm is ‘n totale oorspronklike skepping (teks en melodie).

•‘n Nuwe teks (sonder melodie) of melodie (sonder teks) kan ook voorgelê word.

•Tekste van kortvorm-psalms kan op die volgende maniere benader word: – Kort stelwyses waarin die essensie van elke perikoop of die psalm as geheel uitgelig word. – ‘n Seleksie van een of meer perikope as die teks vir ‘n omdigting. – ‘n Seleksie van ‘n paar verse uit die psalm wat ‘n eenheid vorm – sonder om die geheel van die psalm te verloor. – Die gebruik van een kernvers of kernfrase uit ‘n psalm as ‘n liturgiese respons of lied. – Die seleksie van ‘n uitstaande tema en die verse wat daarop betrekking het, terwyl die psalm as geheel in gedagte gehou word. – Temas kan gebaseer word op emosies, probleme, liturgiese elemente of ander aspekte van aanbidding. – Tekste van liturgiese response is meestal kort, dikwels een sin; dit vorm deel van die liturgiese gesprek en verwoord die antwoord van die gemeente by ‘n spesifieke liturgiese gebeurtenis of onderdeel daarvan. – Die melodie moet afgestem wees op gemeentesang. – Die woord-toonverhouding moet die ritmiese infleksies en aksentuering van die spreektaal op ‘n natuurlike wyse in die musiek ondervang. – Vermy herhalings en gedwonge rym as dit nie funksioneel is nie. – Die lied kan ook ‘n gesamentlike produk deur twee of meer persone wees. – Die vereiste vir die voorlegging van ‘n nuwe lied is dat dit van musieknotasie (handgeskrewe of elektroniese formaat), sowel as van ‘n klankopname van die lied (teks en/of melodie) voorsien sal wees. Die klankopname hoef nie noodwendig professioneel van aard te wees nie. – ‘n Begeleiding/harmonisasie kan deel wees van die voorlegging, maar dit is nie ‘n vereiste nie. – VONKK se keuringskomitee sou wysigings kon voorstel en in oorleg met die komponis/skrywer kan aanbring. –

Riglyne vir digters/teksskrywers/komponiste van nuwe liedere

•‘n Nuwe lied is ‘n totale oorspronklike skepping (teks en melodie)

•‘n Nuwe teks (sonder melodie) of melodie (sonder teks) kan ook voorgelê word

•Die melodie moet afgestem wees op gemeentesang

•Die woord-toonverhouding moet die ritmiese infleksies en aksentuering van die spreektaal op ‘n natuurlike wyse in die musiek ondervang

•Vermy herhalings en gedwonge rym as dit nie funksioneel is nie

•Die lied kan ook ‘n gesamentlike produk deur twee of meer persone wees

•Die vereiste vir die voorlegging van ’n nuwe lied is dat dit van musieknotasie (handgeskrewe of elektroniese formaat), sowel as van ‘n klankopname van die lied (teks en/of melodie) voorsien sal wees. Die klankopname hoef nie noodwendig professioneel van aard te wees nie.

•‘n Begeleiding/harmonisasie kan deel wees van die voorlegging, maar dit is nie ‘n vereiste nie

Sien ook VONKK: Algemene riglyne