Lisensies

Flam: MRL lisensie

Liedboek / Psalms en Gesange: Liedboek-lisensie

Vonkk: VV lisensie

Al hierdie lisensies is beskikbaar by CCLI.

Q Wat is ‘n MRL lisensie?

A Dit is die lisensie wat jou gemeente nodig het om bladmusiek af te laai EN te kopieer.  Dit word ook by CCLI bekom.  Hierdie is ’n addisionele lisensie, wat jou die reg gee om bladmusiek te kopieer.  ‘n CCL gee ‘n gemeente die reg om die teks van ‘n lied te kopieer en te projekteer.  Die MRL gee ‘n gemeente die reg om die bladmusiek van ‘n lied vir die hele gemeente (of die begeleidingsgroep) te kopieer of te projekteer.

Jy moet die MRL-nommer gebruik om op www.flam.co.za te registreer.

Q Ons hou van ‘n lied, maar dit is nog nie ‘n FLAM lied nie. Hoe word ‘n lied ‘n FLAM lied?
A Jy het ‘n lied geskryf of jy hoor ‘n lied op ‘n CD – maar dis nie ‘n FLAM-lied nie.  Hoe word ‘n lied ‘n FLAM-lied:

Indien die lied reeds opgeneem is, kan jy die lied (die mp3 + teks) epos na info@flam.co.za

Indien jy die lied self geskryf het, volg die volgende prosedure:
a. Jy kan eers die lied aan FLAM voorlê.  Ons verkies om ‘n opname van die lied (selfs sommer een wat jy op jou selfoon gemaak het!) te hoor, maar wil ook die teks en akkoorde sien.  Indien jy dit vir ons kan epos na info@flam.co.za, is dit vir ons die beste.
b. Ons stel soms geringe tekswysigings voor en dan help dit as die lied nog nie gepubliseer is nie.

Indien jou lied deur FLAM goedgekeur is, volg dan die volgende stappe:

c. Voltooi ’n Deed of Assignment (DOA) van ‘n uitgewer (FLAM is ook ’n geregistreerde uitgewer, maar jy kan van enige uitgewer gebruik maak).
d. Voltooi die FLAM-ooreenkoms (al gebruik jy ‘n ander uitgewer) sodat ons dit op die webtuiste kan gebruik.
e. Die DOA tesame met die lirieke en bladmusiek moet aan die uitgewer in duplikaat voorsien word nadat beide in swart onderteken en alle bladsye geparafeer is.
f. Die liedere moet ook by SAMRO/NORM/CAPASSO geregistreer word deur die skrywer van die lied.  Daar moet seker gemaak word dat die skrywer wel by SAMRO geregistreer is alvorens daar liedere aan hulle gestuur word.  SAMRO se kontaknommer is: 011 489 5000.
g. Die uitgewer moet ook die liedere by SAMRO registreer om sodoende ook tantiemes in te vorder vir die gebruik van die liedere.

Q Ek het agtergekom dat daar ‘n fout is op die Chordsheet/ Leadsheet/Hymnsheet. Hoe kan ek dit regstel?
A Omdat FLAM probeer om so vinnig as moontlik die musiek by gemeentes uit te kry, kan dit soms gebeur dat daar ‘n fout insluip, selfs ten spyte van die feit dat alle bladmusiek deur verskeie kundiges geproeflees word.

Ons is glad nie fyngevoelig nie – laat weet ons asb. by info@flam.co.za – en ons sal die fout so vinnig as moontlik regstel.

Q Wat is die ‘Groot 5’?
A Ag, komaan, weet jy nie wat die ‘Groot 5’ is nie?  Dis die Leeu, die Olifant, die Luiperd, die Buffel en die…   OK, ek terg net.

FLAM se ‘Groot 5’ is die 5 gewildste FLAM-liedere – dit word bepaal deur CCLI se navorsing en ons eie webtuiste se tellinghouer.  As jy dus wil weet watter liedere reeds deur die meeste ander gemeentes gesing word, kliek dan op een van die liedere onder hierdie afdeling.

Q Wat is die ‘Fars 5’?
A Indien jy wil weet wat die varsste, nuutste liedere op ons site is, kliek op enige van die liedere onder die ‘Fars 5’.

Q Hoe kry ek ‘n CCL lisensie?
A Sonder ‘n CCL lisensie kan  FLAM-liedere se tekste nie gratis afgelaai word nie. ‘n Gemeente kry ‘n lisensie en nommer van CCLI by eolivier@ccli.co.za of kontak Elmarie by 021 914 8909.  Met hierdie nommer kan ‘n gemeente aanlyn registreer en inlog – om die bladmusiek gratis af te kan laai.

Q Hoe kan ander persone en instansies FLAM-liedere se bladmusiek bekom sonder ‘n CCLI nommer?
A Individue kan nie by CCLI aansluit nie, maar die goeie nuus is dat FLAM bladmusiek vir privaat gebruik verkoop op Bybelmedia se webtuiste (www.bybelmedia.co.za).  Indien jy as ‘n individu inlog sal jy outomaties na BM se webtuiste gestuur word, wanneer jy ‘n lied wil aflaai.

Net terloops:  enige vertonings waar FLAM-liedere gebruik word (indien dit nie onder die dekmantel van jou kerk geskied nie), bv wanneer die skool ‘n Praise & Worship-aand hou, moet die organiseerders ‘n CCLI “eventslicense” bekom.  Kontak CCLI vir meer inligting hieroor by info@ccli.co.za of by 021 914 8908.

Q Ons is op soek na kinderliedjies. Is daar kinderliedjies beskibaar?
A Ja, daar is baie  bladmusiek van kinderliedjies beskikbaar op www.flam.co.za .  Ons het het 4 kategorieë geskep om alle FLAM liedere ’n tuiste te gee: •FLAM – vir gemeentesang •KRUISFUUR – vir afrikaanse “rock” worship •FLAMMIKIDZ – vir laerskool kinders & kleuters •KERSFLAM – vir meditatiewe eredienste

Op die Tuisblad, kliek op Flammikidz.  Al die kinderliedere sal vir jou gelys word.

Q Kan ek die FLAM bladmusiek op powerpoint sit?
A Ja! Jy kan en jy mag,  mits jy ‘n CCLI-lisensie het. [Sien die webskakel www.ccli.co.za  na hulle webadres vir kontakbesonderhede.]  Jy het ‘n CCLI-lisensie nodig om die teks van enige lied te vertoon.

STAPPE: Kopieer die teks uit die Text-dokument op hierdie webblad en “paste” dit in Powerpoint. Die bladmusiek word as ‘n prentjie hanteer in Powerpoint en kan vanuit die PDF dokument ge”cut” & ge“paste” word.

ALTERNATIEF: Gaan besoek ook gerus   http://www.visualpraise.co.za/ en http://www.lyrix.co.za/ .  Hierdie ouens maak gereeld van die FLAM powerpoints en kan daar afgelaai word.

Q Waar kan ek die FLAM CDs kry?
A By Gospel Direct, Cum Boeke, Lux Verbi, Bybel-Media se webtuiste (www.bybelmedia.co.za)

Alle liedere wat nog nie iewers opgeneem is nie, is as mp3’s op ons webtuiste beskikbaar.  Let wel dat hierdie mp3’s nie volledig, verwerkte opnames is nie, maar slegs ‘n klavier en stem-opname om jou ‘n idee te gee hoe die lied min of meer klink.

Q Hoeveel FLAM CDs is al beskikbaar?
A FLAM het al vyf amptelike CD’s vrygestel en hulle is beskikbaar in die musiekhandel of by BMHandel (bestel@bmedia.co.za of 0860 26 33 42). Hierdie CD’s  is “FLAM: Volume 1”, “Roeping: Lof”, Fluister, Fluistering en Folgende.

Verskeie kunstenaars se albums bevat egter FLAM-liedere, oa:  Retief Burger se “Luidkeels”-reeks, Stass se “Onbeskaamd I en II”, OudioAltaar se “Skadu oor My”, Carli Lessing se “Veel meer”, Luidkidz, Louis Brittz se “Nuwe Lof” en “Psalms I en II” en nog vele meer.

Ons het so ver moontlik probeer aandui op watter CD’s ‘n lied beskikbaar is, indien dit al reeds opgeneem is.

 

Q Is daar ‘n hardekopie bundel van die FLAM-liedere beskikbaar?
A As gevolg van kopiereg probleme en kostes sal ‘n volledige FLAM-bundel ongelooflik duur wees.  In 2011 het ons egter saam met die CD , F-luister, ‘n hardekopie bundel uitgegee, met die titel  ‘Volume 03″.  Die bundel kos R185, 95 en is beskikbaar by Bybel Media Handel (0860 26 33 42 ). Jy betaal slegs R200 vir die bundel en die CD wanneer jy dit saam koop.

Q Ek het nie ‘n CCLI nommer nie. Kan ek steeds liedere aflaai?
A INDIVIDUE sonder CCLI & MRL NOMMERS

As jy nie aan ‘n gemeente behoort nie en dus nie ‘n CCLI & MRL-nommer het nie, dan hoef jy nie te registreer nie.  Volg eenvoudig die volgende stappe:

1) Kry die lied wat jy graag wil aflaai

2) Kliek op die “download leadsheet” of “download chordsheet” opsie van die lied, afhangend van watter weergawe van bladmusiek jy graag sal wil aflaai.

3) Kliek op die skakel wat sê “kliek hier” as jy ‘n individu is.

4) Koop die bladmusiek op die Bybel-Media webblad

Q Waar is die link waarmee ek al die FLAM liedere op een slag kan aflaai?
A Daar was op die ou FLAM webtuiste (voor 2009) ‘n link waarmee mens al die liedere gelyk kan aflaai.  Op die nuwe site is dit ongelukkig nie meer moontlik nie.  Die redes daarvoor is:

1) Indien jy al die liedere op die nuwe flam site wil aflaai is die file meer 3 gigabite groot

2) FLAM wil graag kan monitor watter van die liedere die gewildste liedere is

3) Ons wil nie hê jy moet al die nuuste verwikkelinge en nuuste liedere op www.flam.co.za misloop deur net een keer op die site te kuier, alles af te laai en nooit weer vir ons te kom kuier nie!

Q Ek wil ‘n mp3 aflaai, maar as ek kliek op die link maak dit onmiddelik oop in my Mediaplayer en dan kan ek dit nie ‘save’ op my rekenaar nie.
A Die meeste browsers behoort vir jou die opsie te gee om dadelik die mp3 te save.  Indien dit nie gebeur nie, volg die volgende maklike stappe:

1) Maak net die e-pos oop van jou bestelling en copy die link. Indien die mp3 in die Fuurhoutjie was, copy die link vanuit die Fuurhoutjie.

2) Paste die link in MS Word.  Maak seker dat dit ‘n URL (hyperlink) vorm.

3) Save die blad as ‘n web page (htm, html).  (Save as – Webpage).

4) Maak MS Word toe.

5) Dubbel kliek op die Word/Web page dokument wat jy nou net gesave het.

6) Wanneer die blad oopmaak, regs kliek op die URL en sê ‘Save Target As’ of ‘Copy link as’ (afhangende van die weergawe van Word wat jy gebruik).